God wat roep gee jou ook die krag om jou roeping te vervul
Teks: Jesaja 49:5
|
LITURGIE BY DIE OGGENDDIENS ONTMOETINGSDIENS Votum en groetseën Lofsang: Sb 34:1,2 Geloofsbelydenis VEROOTMOEDIGING- EN VERSOENINGSDIENS Wet: WOORDDIENS Gebed Ps. 71:1,2,6,9 Skriflesing en prediking Bevestiging diakens Ps 134:4 ANTWOORDDIENS Gebed Liefdegawe: Lofsang: Ps 68:9,16 Wegstuurseën. |
Prediker: Ds. Jannie Erasmus
Skema
God roep
God roep ons tot sy diens. So het ons al in verskeie preke die afgelope maande gehoor. So het God vir Abraham, vir Simson, vir Jesaja en ook vir jou geroep. Selfs Christus is volgens ons teks ook geroep tot diens aan sy Vader
God roep en gee ‘n taak
Binne sy kerk roep God sekere mense tot besondere diens. Dit is die diens van regering (ouderlinge), die diens van Woordverkondiging (predikant), en die diens van liefde (diakens). So is Jesaja geroep tot die besondere diens van profeet. Paulus is geroep tot die besondere diens van apostel. Christus is geroep tot die heerlike maar moeilike diens van verlossing.
God gee die krag vir roepingswerk
In Jesaja 49 word die taak en roeping van Christus in Ou Testamentiese terme uitgedruk. Sy taak is moeilike (1983-Vertaling) maar tog heerlik (1953-Vertaling). God, die Vader, is sy krag. Hy roep tot die moeilike/heerlike taak. Hy gee die krag om die werk te verrig. Net so staan God ons deur sy Gees by om ons moeilike/heerlike roepingswerk te verrig.
Preek
Geliefde Gemeente
In die prediking het ons die laaste tyd baie gehoor oor roeping. Ons het gehoor dat dit natuurlik vir die mens is om ver van God te lewe. Tog, God wil ons in sy diens gebruik. En om ons in sy diens te gebruik, roep Hy ons.
Gedurende Meimaand was daar ‘n hele reeks preke oor die roeping van Abraham.
Verlede Sondag het ons na nog ‘n preek oor roeping geluister. Ons het gehoor wat die implikasie daarvan is wanneer ons aan die roeping van die Here ongehoorsaam is soos Simson daaraan ongehoorsaam was.
Gemeente,
God roep.
Lees ons deur die hele Bybel, dan tref dit ons dat elke gelowige op een of ander stadium besonderlik roeping van God in een of ander taak ontvang het:
Abraham is geroep, Moses is geroep, Samuel is geroep, Simson is geroep, Jesaja is geroep, Petrus, Paulus, ja, elke gelowige is deur God op sy naam geroep om ‘n taak vir die Here te verrig.
En net so het die Here elkeen van ons geroep. Hy het ons nog voor ons geboorte op ons name geroep om in sy diens te staan.
Ons teks is vanoggend Jesaja 49. Die taak waarvoor Jesaja geroep was (so lees ons in Jesaja 6) was om die Woord van God aan die volk bekend te maak. Jesaja moes profeet van die Here vir sy volk wees.
Die boek Jesaja word in twee groot dele verdeel.
In hierdie tweede gedeelte is daar tussen die beloftes van verlossing uit ballingskap ook aanduidings van ‘n persoon wat hierdie verlossing sou bewerkstellig.
Vanaf hoofstuk 40 tot 55 is daar vier gedeeltes wat deur spesialis navorsers van die boek Jesaja die "knegliedere" genoem word. Hierdie is vier gedeeltes wat handel oor ‘n besondere dienaar/kneg van die Here - daardie persoon wat die volk sou verlos.
Eintlik handel hierdie vier liedere nie oor daardie persoon nie. Dit is liedere waarin daardie dienaar sélf aan die woord is en oor sy dienswerk praat.
Broers en Susters, die gedeelte uit Jesaja wat ons vanoggend saamgelees het, is die tweede van hierdie vier dienaarliedere. Alhoewel Jesaja aanduidings oor hierdie dienaar gee, is daar effense onduidelikheid oor wie hierdie persoon werklik was wat die volk uit ballingskap sou verlos.
En dit is met ‘n rede, want alhoewel hierdie persoon die volk uit ballingskap sou verlos, het die Heilige Gees deur Jesaja eintlik iets veel diepers met hierdie dienaarliedere bedoel. Ek gaan vir ons enkele verse uit die derde en vierde liedere voorlees. Luister bietjie of jy kan hoor wie hierdie besondere Dienaar van die Here sou wees – hy wat self hier aan die woord is.
Eers lees ek vir ons vanuit Jesaja 50 vanaf vers 5: Die Here my God het my geleer om te luister: ek was nie teen Hom opstandig nie, ek was nie ontrou aan Hom nie. 6Ek het my rug gehou vir dié wat my slaan, my wang vir dié wat my baard uittrek. Ek het my gesig nie weggedraai toe ek bespot en bespoeg is nie.
Ek lees ook vir ons saam vanuit Jesaja 53 vanaf vers 6: 4Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. 5Oor ons oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.
Herken jy hierdie besondere Dienaar van die Here? Veel dieper as bloot op die verlosser vanuit ballingskap in Babelonië aan te dui, word die verlosser vanuit die ballingskap van die sonde aangedui. Ja, eintlik is hierdie besondere Dienaar van die Here wat in hierdie tekste aan die woord is, Hy wat vir ons sondes deurboor is, ons Here Jesus Christus self. Reeds hierdie in die Ou Testament praat Hy oor die taak waarvoor sy Vader Hom geroep het.
Geliefdes,
wanneer die Here roep, dan gee Hy saam met daardie roeping ‘n taak.
God het my en jou geroep. Ja, net soos daar in Jesaja 49:1 staan, het die Here ons al voor ons geboorte geroep. Hy het ons geroep en aan ons ‘n taak gegee.
Christus se taak, waarvoor Hy bestem is lank voor Hy mens geword het uit Maria, was om volgens Jesaja 49:7 redding vir die volke tot in die uithoeke van die aarde te bewerk en vir hulle ‘n lig te wees.
Broer en Suster, my en jou taak (waarvoor God ons geroep het nog voor ons gebore is) is om hierdie reddingslig van God deur ons gehoorsaamheid aan Hom, tot in die uithoeke van die aarde te laat skyn. So leer die Here ons in die Nuwe Testament.
Hierdie taak kan ons nie op ons eie verrig nie. Daarom dat die Here ons as ‘n gemeente, ‘n kerk, bymekaar gevoeg het.
Om dit vir ons moontlik te maak om as sy kerk te funksioneer, roep die Here sekere lidmate tot besondere diens.
Vandag het ons in die kerk besondere dienste of ampte. Dit is mense wat besonderlike deur die Here tot besondere dienswerk geroep is.
Gemeente, vanoggend word hier vier nuwe diakens in ons gemeente in hulle besondere dienswerk bevestig. Nadat hulle wettig deur die gemeente verkies is, het hierdie vier lidmate tot die oortuiging gekom dat die Here hulle deur die gemeente geroep het om in hierdie besondere diens te staan. Daarom het hulle die roeping opgevolg en sal hulle vanoggend in hulle diens bevestig word.
Geliefde,
– God het ‘n taak vir jou.
Bepaal wat jou taak is en leef jou roeping voor God uit. Onthou, jy sal verantwoording aan Hom moet doen oor hoe jy jou roeping uitgeleef het!
Om ons roeping as gelowiges uit te leef, is nie altyd maklik nie.
Soms is ons roepingswerk vir ons bitter moeilik. Vir Christus was sy roepingswerk ook bitter moeilik.
Sy roepingswerk was egter bitter belangrik.
In Jesaja 49:5 vertel Jesus al in die Ou Testament van die belangrikheid van die taak wat Hy sou kom verrig. Hy sê: Die Here het my ‘n belangrike opdrag gegee. Maar hoor wat sê Hy volgende: en my God gee my die krag om dit te doen!
Geliefdes, die take waartoe die Here ons roep, is nie altyd maklik nie. Soms is dit bitter moeilik. Soms vra Hy ons om in die uitleef van ons roeping vir Hom te sterf! Tog, wanneer Hy ons roep, dan gee Hy ons ook die krag om ons roepingswerk te verrig.
Iets interessants kom na vore wanneer ons na die woordjies "sterkte" of "krag" kyk, wat gebruik word om die bystand van die Here in ons roepingswerk uit te druk.
Baie van julle sal miskien weet wat die naam van die ligte masjiengeweer is wat die Israelse weermag vandag gebruik. Die naam van hierdie masjiengeweer is die "Uzi". "Uzi" is ‘n Hebreeuse naam wat beteken "my sterkte".
Nou, die besondere Dienaar van die Here (Jesus) wat in Jesaja 49:5 aan die woord is, sê letterlik in die oorspronklike Hebreeus: God is my Uzi. God is my sterkte… …
Wanneer Paulus in Filippense 4:13 sê dat Hy tot alles in staat is deur Christus wat Hom krag gee, dan skryf hy in Grieks. Die Griekse woordjie vir krag wat hy gebruik, is "dinamo". Volgens Paulus is Christus sy "dinamo".
Meeste van julle ken die Afrikaanse woordjie dinamo. Die Afrikaanse woordjie is verwant aan die Griekse woord. ‘n Dinamo ‘n ‘n kragopwekker.
Daar is nog ‘n Afrikaanse woord wat verwant is aan die Griekse woord dinamo. Dit is die woord dinamiet. Dinamiet is kragtige plofstof.
Gemeente, wat leer ons uit hierdie woordspeling? Ons leer dat wanneer ons ons roeping uitleef, ons op God se bystand kan vertrou.
Soms is ons roeping vir ons bitter moeilik. Soms word ons geroep tot ‘n taak en ons sien nie daarvoor kans nie. Soms lê daar ‘n roepingstaak voor ons en ons weet nie hoe ons dit gaan verrig nie. Onthou dan:
Gelowige, leef jou roeping in God se krag uit. Jy kan, want Hy maak dit vir jou moontlik!
AMEN
12/07/03 23:30:54