Om spiritiste en mediums te raadpleeg word deur God verbied. Raadpleeg die Here!
Tekste: 1 Sam 28 en Jes 8:19-20
Kernteks: Jes 8:19-20
|
LITURGIE BY DIE OGGENDDIENS Voorafsang: Sb. 7-2:1,2 Sb. 14-2 ONTMOETINGSDIENS Votum en groetseën Lofsang: Ps 148:1,2,7,9 (2001 Omdigting) (Ps100wysie)Geloofsbelydenis Belydenis: Sb 12-3:1,2 (2001 Omdigting) VEROOTMOEDIGING- EN VERSOENINGSDIENS Wet: Ps. 106:3,7 (2001 Omdigting) (Ps 24wysie)WOORDDIENS Gebed Ps. 19:4,7 (1936 Beryming) Skriflesing en prediking ANTWOORDDIENS Gebed Liefdegawe: Lofsang: Sb 8-1:1-2 (Ou Sb 14:1-2)Wegstuurseën. |
Skema
Vandag hoor ons gedurig van die oproep van afgestorwenes se geeste. Dit is asof die mense behep geraak het daarmee. Watter lig gee die Skrif ons oor hierdie praktyke
Verkeerde optrede van Saul (1 Samuel 28)
Omdat Saul nie meer kontak met die Here gehad het nie, gaan spreek hy ‘n dodebesweerder (‘n medium) om kontak met die gees van Samuel te maak. Hierdie optrede word pertinent deur God verbied. Hiermee plaas Saul die seël op sy afdwaling van die Here. Hy leer in elk geval niks nuuts deur sy goddelose optrede nie. Sy verwerping deur God word net bevestig.
Regte optrede van Jesaja (Jes 8:19-20)
Ook Jesaja leef in ‘n goddelose tyd. Sy koning deel ook in praktyke van die bose. Gedring deur die Gees van God toon Jesaja hoe verkeerd hierdie praktyke is, máár Jesaja verkondig ook die regte manier van optrede: Terug na die wet en getuienis van die Here (terug na die Woord van God)
Teenoor die raadpleging van allerlei geeste, het ons reeds die Heilige Gees. Die Heilige Gees verklaar God se Woord en lei ons in die waarheid. Christus het immers vir hierdie rede sy Gees oor sy kerk uitgestort.
Preek
Geliefde Gemeente
Iets wat baie opspraak die laaste tyd veroorsaak, is die groot ophef wat gemaak word oor kontak met die geeste van dooies.
Dink ons mooi na oor hierdie hele onderwerp, dan besef ons dat dit nie net vandag is wat hierdie hele beheptheid met die geeste van dooies, bestaan nie. Nog al die eeue is daar ‘n soeke na raad en inligting vanaf -, en kontak met dooie mense en allerhande geeste.
Kom ons probeer hierdie vrae beantwoord deur die bestudering van die twee gedeeltes wat ons uit die Woord van die Here saamgelees het. Eers gaan ons na Saul se optrede kyk. Daarna na die getuienis wat Jesaja oor hierdie verskynsel gelewer het. En dan ten slotte na wat gelowiges se antwoord op hierdie verskynsel is.
Eers oor die optrede van Saul
Geliefdes, die stukkie geskiedenis wat vir ons in 1 Samuel 28 oor Saul se besoek aan ‘n dodebesweerder opgeskryf is, is die stuk geskiedenis in die Bybel wat vir ons die beste beskryf hoe die praktyk vir die oproep en raadpleging van geeste gedoen is. Dit wat daardie dodebesweerder gedoen het, is eintlik presies dieselfde as dit wat Jonathan Edwards in sy televisieprogramme doen.
Hierdie vrou word in die NAV ‘n dodebesweerder genoem. In die OAV word sy ‘n heks genoem. Vandag sou sy as ‘n medium bekend gestaan het. Sy was iemand wat die geeste van dooies geraadpleeg het – óf in elk geval, voorgegee het dat sy hulle raadpleeg.
Hoekom het Saul hierdie vrou in die eerste plek gaan raadpleeg? In verse 4- 6 van 1 Samuel 28 kry ons die antwoord. Daar staan: 4Die Filistyne het bymekaargekom en kamp gaan opslaan by Sunem. Saul het die hele Israel bymekaargemaak en kamp opgeslaan by Gilboa. 5Saul het die kamp van die Filistyne gesien; hy was bang en sy hart het benoud geklop. 6Hy het die Here geraadpleeg, maar die Here het hom nie geantwoord nie, nóg deur drome, nóg deur die urim, nóg deur profete.
Miskien sal jy onthou wat die voorafgaande geskiedenis was. Saul was die eerste koning van Israel. Die Here het hom aangewys as koning en in die beginjare van sy regering was die Here met Saul gewees. Ongelukkig het Saul van die Here afvallig geraak. Saul was ongehoorsaam en die Here het Hom van Saul onttrek. Saul het al hoe verder van die Here af wegbeweeg en die Here het vir Dawid as koning laat salf.
Nou, in 1 Samuel 28, het Saul se wegbeweeg vanaf die Here tot ‘n dieptepunt gekom. ‘n Groot veldslag lê voor en Saul is bang en bekommerd. Waarskynlik het hy ‘n gevoel gehad dat hy hierdie veldslag gaan verloor. En nou het hy hulp en leiding gesoek.
Nou, in sy tyd van worsteling probeer hy steeds die Here raadpleeg, maar die Here het Homself onttrek. Saul kry geen antwoord nie. In desperaatheid neem hy nou sy toevlug na ‘n dodebesweerder – iets wat oënskynlik heel vreemd was. Hy het dan self dodebesweerders verbied!
Die rede hoekom dodebesweerders, mediums en spiritiste verbied was, kry ons op verskeie plekke in die wette van Israel. O.a. in Levitikus 19 het die Here die volk beveel: "26Julle mag nie waarsêery en towery beoefen nie." En ook: "31Moenie hulp soek by geeste of waarsêers nie. Dit sal julle onrein maak. Ek is die Here julle God."
Gemeente, wat leer ons hieruit?
Kom ons kyk ook na wat
die gevolg van Saul se ongehoorsame optrede was
Ons het gelees dat Saul by die vrou gekom het en gevra het dat die gees van Samuel opgeroep word. Samuel was altyd die instrument waardeur die Here met Saul gepraat het. Wat Samuel gesê het, het altyd gebeur. Daarom is dit seker verstaanbaar hoekom Saul na Samuel gevra het.
Ons het ook gelees dat die vrou nie geweet het wie Saul was nie. Vir haar was hierdie ‘n onbekende man wat by haar kom en vir Samuel wil sien. En dan lees ons dat die vrou begin het met die ritueel om die gees van ‘n dooie op te roep.
Broers en Susters, wat verder gebeur het, weet ons.
Oor hierdie verskyning van Samuel is daar verskil van mening onder Bybelverklaarders. Een van twee sienings word ter verklaring aangebied.
Die tradisionele verklaring is dat dit nie werklik Samuel was wat verskyn het nie. In vers 14 sê die vrou immers dat sy slegs ‘n ou man met ‘n mantel gesien het.
Die tradisionele verklaring gaan nou verder deur te sê dat die vrou, met behulp van bose magte geweet het wat in Saul se gedagtes aangaan. Sy kon sy gedagtes lees en het geweet waaroor hy bekommerd is.
Geliefdes, kan jy sien waarom ons volgens die tradisionele verklaring met wegbly van die raadpleeg van geeste. Dit is bedrog en jy is besig om met bose magte en kragte saam te werk. Dit is nie gepas vir ‘n kind van God nie.
‘n Ander verklaring van hierdie gebeure is soos volg: Dit is volgens hierdie verklaring wel die gees van Samuel wat verskyn. Maar Samuel verskyn dan nie omdat die vrou hom oproep nie, hy verskyn omdat die Here dit toelaat.
Indien hierdie verklaring korrek is, dan leer ons steeds ‘n paar dinge: Oor die algemeen is die oproep van geeste bedrog.
Broers en Susters, duidelik is die oproep van geeste
Teenoor die optrede van Saul, vind ons ook in die Skrif
die optrede van Jesaja
Teenoor Saul se verkeerde optrede, vind ons die korrekte optrede van Jesaja.
Gemeente, ook Jesaja het in ‘n stormagtige tyd geleef. Die koning van die tyd waarin die profesie van Jesaja 8 en 9 gegee is, was koning Agas. Koning Agas was ‘n goddelose koning wat allehande afgodsdienste bedryf het. Onder andere het hy selfs een van sy seuns as brandoffer vir ‘n afgod laat verbrand.
Agas was in sy tyd ook baie bekommerd oor aanvalle van vyandige magte. Daaroor handel Jesaja 7. Vanweë sy goddeloosheid en die gruwelike praktyke wat hy bedryf het, kan ons die afleiding maak dat hy homself ook opgehou het met die oproep van geeste en allerlei okkultiese bedrywe.
Hierteenoor het Jesaja baie sterk standpunt ingeneem. Daarom dat Jesaja in hoofstuk 8:19 eintlik met hierdie praktyk spot as hy sê: "Mense sê julle moet mediums en spiritiste raadpleeg wat fluister en mompel, maar moet ’n volk nie sy God raadpleeg nie? Waarom sou ’n mens dooies in belang van lewendes raadpleeg?"
Ek verstaan hierdie spottery van Jesaja as volg:
Broer en Suster, wil jy deel in die bedrog van die Satan? Ja? Deel dan in hierdie praktyke. Wil jy nie in die Satan se bedrog deel nie? Bly dan weg van hierdie praktyke.
Jesaja toon in vers 20 dat daar
vir die gelowige net een pad is
Jesaja leer:"Terug na die wet en die getuienis van die Here! Wie nie volgens hierdie woord praat nie, is sonder toekoms!"
Ons het nie nodig om geeste te raadpleeg om insigte te verkry nie. Ons het alles wat ons nodig het om ons lig en leiding in hierdie lewe te gee. Ons het die Woord van die Here. In sy Woord toon God aan ons alles wat ons nodig het om te lewe. Ons het niks meer nodig nie.
En ons het ook nog meer.
het ons reeds ‘n Gees. Ons het die Heilige Gees wat in ons woon en in ons werk.
Vandag is die tien dae sedert ons hemelvaart herdenk het. Tien dae na die Here Jesus Christus na die hemel opgevaar het, het Hy sy Heilige Gees oor sy kerk uitgestort. Vandag herdenk ons die uitstorting van die Heilige Gees. Vandag staan in die kerk bekend as Pinkstersondag.
In Johannes 14:17 word die Heilige Gees die Gees van Waarheid genoem. Christus het die Gees van Waarheid aan sy kerk gegee om (volgens Johannes 14:26) sy kerk alles te leer, en alles te herinner aan wat die Here vir ons gesê het.
Ons het sy Woord. Ons het sy Heilige Gees. Sy Heilige Gees verklaar en verduidelik vir ons sy Woord. In sy Woord leer die Here ons alles wat ons moet weet vir ons saligheid. Ons het niks meer nodig nie.
Aanmoediging
Daarom, Geliefdes, teenoor om ons op te hou met allerlei dwaalpraktyke (soos die oproep van geeste van afgestorwenes), kom ons hou ons besig met die beste wat daar is – die Woord van die Here. Sy Heilige Gees verklaar sy Woord vir ons. So leer Hy ons alles wat ons moet weet.
Vandag is Pinkstersondag.
Want hoor wat leer Jesaja in hoofstuk 8:20 "Wie nie volgens hierdie woord (die woord van God) praat nie, is sonder toekoms!"
Ons praat volgens God se Woord en Gees. Daarom weet ons, ons het ‘n toekoms – ‘n toekoms by die Here.
AMEN
07/06/03 13:29:44