Christus gee troos!
Teks: 1 Tess 4:13-18 Heidelbergse Kategismus So 1
|
LITURGIE BY DIE MIDDAGDIENS ONTMOETINGSDIENS Votum en groetseën Lofsang: Ps 91:1,6 Gebed Ps. Ps 4:1,3 WOORDDIENS Skriflesing en prediking ANTWOORDDIENS Gebed Liefdegawe: Lofsang: Ps 145:2,10,11,12 Wegstuurseën. |
Preek
Broer en Suster,
Die feit dat jy ‘n Christen is, behoort jou ‘n ander lewensuitkyk te gee, en behoort jou lewe anders te maak as die lewensuitkyk en lewens wat nie-Christene het. Jy behoort ‘n ander lewe as nie-Christene te hê, omdat
jy ‘n troos het wat hulle nie het nie -
so begin die heel eerste Sondagsafdeling van die Heidelbergse Kategismus.
Jy het ‘n troos.
Let op die wyse waarop Vraag 1 van die Heidelbergse Kategismus gestel is: "Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?" Hiermee word nie ‘n bloot teoretiese vraag gevra nie. Hiermee word dadelik na die praktyk beweeg:
En hierdie betekenis van die evangelie en van Jesus Christus het waarde nie net vir hierdie lewe nie, maar ook vir die lewe hierna. Hoor mooi: "Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?"
Geliefdes, voordat ons kyk na wat daardie troos is wat ons het, kom ons kyk eers na wat troos presies is.
Een van die mense wat die Heidelbergse Kategismus in 1561-1563 opgestel het (‘n man met die naam Sagarias Ursinus), het gesê dat troos eintlik ‘n teëwig is. Kom ons verduidelik dit aan die hand van ‘n weegskaal soos volg:
Almal van ons ken ‘n weegskaal. Dit is ‘n skaal met twee bakkies wat oor ‘n punt gebalanseer is. Sit jy iets in die een bakkie en die ander bakkie is leeg, dan gaan die bakkie met iets in, afsak. Sit jy nou iets swaarders in die ander bakkie, dan gaan daardie bakkie afsak en die eerste bakkie gaan oplig.
Nou sê Ursinus dat troos iets is wat jy in een van die bakkies sit. In die ander bakkie is daar dan
Hoe groter jou smart, hartseer, ongelukkigheid en onsekerheid, hoe swaarder is daardie bakkie.
Troos is nou dit wat jy in die ander bakkie moet sit en wat swaarder weeg as die smarte. Dit spreek seker nou vanself dat vir troos om doeltreffend te wees, dit swaarder moet wees as die smarte wat ervaar word.
Nou is die vraag wat gevra word:
wat so groot is dat dit nie net swaarder weeg as enige smarte in hierdie lewe nie, maar ook so groot is dat dit ons hoop is in die lewe hierna? … …
Kom ons kyk vir ‘n antwoord hierop
na 1 Tessalonisense 4:18. In 1 Tessalonisense 4:18 staan daar: "Troos mekaar dan met hierdie woorde". Duidelik was daar iets wat baie groot ongelukkigheid en hartseer in die gemeente van Tessalonika veroorsaak het. Daardie gemeente het troos nodig gehad.
In hoofstuk 4:13 kry ons insig in dit wat die hartseer en ongelukkigheid veroorsaak het. Paulus skryf daar: "Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie."
Dit wil voorkom asof daar in die Tessalonisers ongelukkigheid en hartseer was oor medegelowiges wat gesterf het.
Broers en Susters, vandag nog is een van die dinge wat met ons in hierdie lewe kan gebeur (en wat volgens sielkundiges die meeste spanning en stres vir ‘n mens kan veroorsaak) die afsterwe van ‘n nabye geliefde. Ons kan daarom iets van die hartseer en ongelukkigheid van die Tessalonisensers verstaan. Mede-gelowiges, naby-gelowige-geliefdes het gesterf en hulle was hartseer.
Wat hulle hartseer en ongelukkigheid nog meer gemaak het (en dit is hoekom Paulus hierdie brief aan hulle skryf) was dat hulle perspektief verloor het op die troos wat hulle eintlik geweet het hulle het. Nou word hulle daaraan herinner.
En dit waaraan die Tessalonisensers herinner word, is ook dit waaraan ons vandag herinner moet word. Want vir hulle (en vir ons) is dit daardie troos wat swaarder weeg as die hartseer wat selfs die dood vir ons kan bring.
Paulus herinner hulle nou weer aan die werk wat Christus kom doen het. Christus het vir hulle (en ook vir ons) kom sterf. Hy het vir ons aan die kruis met sy kosbare bloed betaal en ons so van die mag van die Satan gered. Ons behoort nou aan Hom en niks kan ons van sy liefde skei nie.
En daar het dit nie opgehou nie. Hy het ook uit die dood opgestaan. Hy het opgevaar en sit aan die regterhand van sy hemelse Vader vanwaar Hy ons beskerm en bewaar, sodat (sonder die wil van sy hemelse Vader) geen haar van ons hoofde kan val nie.
En nog meer. Hy het ook sy Heilige Gees aan ons geskenk wat in ons woon en werk. Sy Heilige Gees wat ons van harte gewillig maak maak om vir die Here te lewe en ons eiewil agter te laat.
Gemeente, watter wonderlik troos is hierdie nie. Paulus het dit in effens ander woorde as die Heidelbergse Kategismus aan die Tessalonisensers beskryf. Hy het die implikasie van hierdie troos t.o.v. die dood egter baie mooi in woorde gestel. Want omdat hulle die troos van Christus se opstanding uit die dood gehad het, moes hulle ook die troos oor die opstanding van hul eie gelowige geliefdes aanhoor.
Wat die Tessalonisensers baie bekommerd gemaak het (so kom dit voor) was die feit dat hulle verwag het dat Christus enige dag sou terugkom. Intussen het ‘n hele paar jaar al verbygegaan en van hulle mede-gelowiges het gesterf. Waarskynlik het die volgende vrae by hulle ontstaan:
En nou antwoord Paulus hulle deur te sê dat hulle nie bekommerd hoef te wees nie. Die Christelike geloof (so sê hy in vers 14) glo immers nie net dat Christus gesterf het nie, maar ook dat Christus opgestaan het. En net soos Christus uit die dood opgestaan het, so sal gelowiges wat gesterf het opstaan daardie dag as Christus terugkom.
Let op die volgorde waarin dinge daardie dag gaan gebeur:
Watter troos: hulle wat gesterf het sal niks mis nie! Ook hulle sal die wederkoms aanskou en ten volle daarin deel. Alles omdat Christus nie net gesterf het nie, maar ook opgestaan het!
Immers in hierdie troos word verder gekyk as die dood. Daar word gekyk na die opstanding uit die dood!
Geliefde, het jy opgelet dat Paulus, nadat hy hierdie troos aan die Tessalonisensers gegee het, aan hulle
‘n opdrag gee.
In ons kernvers gee hy die opdrag: "Troos mekaar dan met hierdie woorde."
Wanneer mismoedigheid, hartseer, teleurstelling en swakheid die Tessalonisensers getref het, moes hulle mekaar troos met die wete dat Christus terugkom en hulle kom haal.
Hierdie opdrag kom net so na ons vandag. Ons leef in ‘n wêreld waarin daar baie hartseer is. Baie dinge gebeur wat maak dat ons baie gereeld baie troos nodig het. Jy weet wat dit is wat in jou lewe maak dat jy smag na troos.
Die troos wat is: Jy behoort met liggaam en siel, in lewe en sterwe, nie aan jouself nie, maar aan jou trou saligmaker Jesus Christus, wat vir jou gesterf, en ook vir jou opgestaan het.
Dit is wat die invloed van hierdie troos op jou behoort te wees
AMEN
09/05/03 12:21:13