Geskiedenis
In die jaar 1887, 12 jaar voor die uitbreek van die
Tweede Vryheidsoorlog, is goud ontdek in die omgewing van die teenwoordige stad
Germiston. Soos elders op die Witwatersrand het die mense ook
hier begin intrek en hulle gevestig op die plaas Elandsfontein, die destydse
eiendom van mnre. Simmer and Jack. Behalwe die delf van goud deur privaat
persone is daar ook 'n maatskappy gestig om goud te ontgin. Al spoedig het
Elandsfontein sy eerste algemene handelaar gekry en kort hierna 'n kantien en
verblyfplek.
Die sogenaamde "Randse trein" het ook
gevolg om diens te doen tussen Boksburg en Johannesburg. Daagliks het
meer en meer mense ingestroom uit die platteland van Suidelike Afrika, sodat
o.a. 'n skool op Elandsfontein 'n dwingende behoefte geword het en toe die
skool eers begin is, was die delwerskamp op Elandsfontein op pad om te
ontwikkel in 'n stad.
Onder hierdie intrekkers op soek na goud en geld was
ook lidmate van die Gereformeerde Kerk. Onder die herderlike toesig en
versorging van die Gereformeerde Kerk van Johannesburg is daar
op Elandsfontein een wyk tot stand gebring met een ouderling en een diaken. En
hierdie besondere wyk was die begin van 'n selfstandige gemeente.
Die wyk Elandsfontein het 'n groot area gedek en die
uitbreiding was van so 'n aard dat hierdie wyk spoedig daarna in drie wyke
verdeel is met 126 belydende lidmate, d.w.s. 42 belydende lidmate in 'n wyk.
Die ouderlinge in hierdie tyd was J. P. Kruger, B. J. du Plessis en T. G.
Kruger.
Met die afstigting van hierdie wyke tot 'n
selfstandige gemeente op 12 Mei 1905 onder die leiding van wyle ds. W. J. de
Klerk, predikant van Johannesburg, is die
volgende broeders verkies tot ouderlinge: P. J. van der Walt, W. J. Coetzee en
T. G. Kruger; tot diakens broeders Nicolaas Prinsloo, P. Erasmus en W. van der
Walt. Ds. Dirk Postma, predikant van Krugersdorp, word aangewys as konsulent
van die gemeente Germiston wat hier werk totdat hy die beroep na Burgersdorp
aanneem, 'n jaar later.
Op 17 Mei 1906 word wyle ds. P. Postma konsulent van
die gemeente en sit sy werk voort vir byna ses jaar. In die jaar 1909 word in
Middelstraat 'n sinkgebou opgerig teen die koste van ongeveer 400 pond, wat vir
baie jare die byeenkomsplek van kerkraad en gemeente was. Op 10 Februarie 1911
neem ds. P. Postma afskeid van die gemeente en word ds. H. J. R. du Plessis
predikant van Bronkhorstspruit aangewys as konsulent van Germiston. Ds. H. J.
R. du Plessis het hier onvermoeid voortgewerk tot November 1916.
Die getroue dienste van die konsulente sal ook vir
sover dit Germiston aanbetref altyd in dankbare herinnering voortleef. Hierdie
werk is sekerlik gedoen onder moeilike omstandighede. Daar was nie alleen die
groot afstande nie, maar ook die vervoer was in daardie dae stadig en langsaam.
Die Kerk van Germiston was versprei oor die hele Oosrand. Op elke klein dorpie
en selfs op afgeleë plekke was daar lidmate woonagtig. Gereelde huisbesoek deur
die konsulente was dan ook nie altyd moontlik nie. En tog het die kerk
uitgebrei en gegroei onder dit alles heen.
Na die beëindiging van die konsulentskap van ds. H.
J. R. du Plessis tree Germiston in kombinasie met Bethal met ds. J. C. van der
Walt as predikant. Ds. van der Walt het hier begin met sy werk in November
1916. Hierdie kombinasie het 'n groot leemte gevul. Die gemeente het nou gedeel
in die voorreg van gereelde huisbesoek en siekebesoek. Hierdie geseënde werk is
vir byna drie jaar volgehou.
Ondertussen het die gemeente te groot geword om in
'n kombinasie behartig te word. Op hierdie stadium was daar toe reeds twee wyke
in Alberton met ouderlinge Klaas Prinsloo en Jan Lombard; twee wyke in
Germiston met broeders Koos Steyn en Jan van der Walt as ouderlinge. Primrose
en Edenvale was een wyk met broeder Gert Henning as ouderling. Witfield, Kempton Park en
Modderfontein was een wyk met broeder Piet van den Berg as ouderling. Boksburg
was een wyk met broeder Jan Coetzee as ouderling. Benoni was een wyk met
broeder Martinus du .Plessis as ouderling. Brakpan was saam met Springs een wyk
met broeder Piet Nel as ouderling. In 1919 het die Gereformeerde Kerk van
Germiston dus uit nege wyke bestaan met 'n kerkraad van 19 lede.
Na die uittrede uit die kombinasie was die kerkraad
en gemeente gereed om oor te gaan tot die beroeping van 'n eie herder en
leraar.
Gedurende Junie
- Julie 1919 is dan ook uitvoering gegee aan hierdie gedagte toe ds. J. H.
Boneschans, predikant van Frankfort in die O.V.S., beroep is as herder en
leraar van die Gereformeerde Kerk Germiston.
Met die koms van ds. Boneschans hierheen het daar
nou 'n nuwe tydperk aangebreek. Heel spoedig was daar 'n duidelike merkbare
verandering. Hierdie verandering ten goede, wat die hele gemeente in die loop
van enkele maande sou deursuur, het merkwaardig genoeg, begin agter in die
konsistorie. Ouderlinge en diakens het ineens met nuwe vuur begin werk. 'n Mooi
gees en gesindheid is onderling gehandhaaf. Hierop het die gemeente gou
gereageer.
Nieteenstaande die groot afstande en swak vervoer,
was die kerkgebou met Nagmaalsdienste heeltemal te klein. Die bywoning van die
eredienste op Sondae het verbeter. Die finansiële posisie van die gemeente is
op 'n gesonde basis geplaas en vir amper drie jaar sou dit met die
Gereformeerde Kerk van Germiston goed gaan. Hiermee is nogeens hierdie groot
waarheid beklemtoon, dat die hart van die gemeente klop in die konsistorie. As
die kerkraad vrede, vertroue en getrouheid onderling handhaaf, dan word dit
onmiskenbaar geopenbaar in die gemeente. As aan die anderkant verdeeldheid,
slapheid en ontrouheid intrek geneem het in die konsistorie, dan stap dit
Sondae saam met die kerkraad die kerk binne en al gou word die gemeente ook in
hierdie opsig die ewebeeld van die kerkraad. As daar dan ook in ons tyd 'n
verandering moet kom in die kerklike lewe, dan sal dit ook moet begin in die
eerste plek agter in die konsistorie.
Die bedieningstyd van ds. J. H. Boneschans in
hierdie dae het groot eise gestel aan hom. Wat vandag 13 gemeentes geword het,
moes hy in daardie dae by huisbesoek doen met 'n trapfiets as vernaamste
vervoermiddel. Dit was eers later dat die kerkraad 'n motor gekoop het, wat die
werk van die gemeente in hierdie opsig makliker gemaak het. Hierdie getroue
dienskneg van ons God het dan ook saam met sy vrou en kinders baie opgeoffer in
belang van die Gereformeerde Kerk in Germiston.
Op 8 Januarie 1922 word 'n algemene staking van
mynwerkers uitgeroep op die Witwatersrand se goudmyne.
Byna alle blanke werkers was hiermee werkloos. Hierdie staking het so 'n
ernstige wending geneem dat dit byna as 'n gewapende opstand beskou was.
Dat hierdie terugslag ook die Gereformeerde Kerk
getref het is vanselfsprekend. Ook lidmate van die Gereformeerde Kerk Germiston
is in die gevangenis geplaas, terwyl ander tydelik uitgewyk het na die
platteland. Die wat nog oorgebly het was baie sonder werk en gevolglik sonder
verdienste. So erg het die situasie ontwikkel, dat nagenoeg twee derdes van die
gemeente of in die gevangenis, of op die platteland, of sonder verdienste was.
In hierdie dae het die gemeente baie gely. Maar saam met die gemeente het die
herder ook gely, hy en sy huis. In hierdie dae het ds. Boneschans vir drie
maande geen traktementuitkering ontvang nie. In die noodsaaklikste behoeftes
van sy huisgesin moes hyself voorsien deur middel van krediet en waar enigsins
moontlik deur privaat lenings. Opmerklik dat ds. Boneschans kort voor die
uitbreek van die staking 'n beroep ontvang het na die Gereformeerde Kerk van
Reddersburg wat hy nie aangeneem het nie, omdat hy hom gedwonge gevoel het om
die Kerk in Germiston nog verder te dien. Dit ds. Boneschans dan ook op 'n
besondere begenadigde wyse gedoen in hierdie donker dae. En wie sal ooit kan bepaal wat die
bediening van God se Woord in hierdie dae vir die gelowige beteken het?
Om die saak
enigsins te bolwerk het die kerkraad uit privaat bronne geld geleen vir die
allernoodsaaklikste behoeftes. Hierdie maatreël het slegs vir 'n klein tydjie
enigsins verligting gebring. Verligting in hierdie benarde posisie sou vanuit
'n heeltemal ander oord kom. Ds. Rumpff, met standplaas in Heidelberg, het die
beroep na Pretoria aangeneem en
daarmee was Heidelberg vakant. Die
kerkraad van Germiston het met die kerkraad van Heidelberg onderhandelinge
aangeknoop met die oog op 'n kombinasie. Die uiteindelike gevolg hiervan was
dat ds. Boneschans op Heidelberg gaan woon het.
Germiston se kerkraad sou aanspreeklik bly vir 'n deel van die traktement en
die reiskoste na en van Germiston en in Germiston. Ds. Boneschans het sy kragte
nie gespaar nie en vir hom was dit miskien die grootste offer, om in hierdie
tyd waarin sy gemeente hom juis so nodig gehad het, uit sy gemeente pad te moes
gee.
In die volle besef van die sondes en die
ongeregtigheid, leer hierdie brokkie geskiedenis tog dit, dat God die Here ook
Sy genadegawes en in besonder Sy Woord sal wegneem van die mens af as hy dit
aanhoudend verwaarloos. Want die Woord van God is elke Sondag verkondig vir
elkeen. Was daar die wat nie wou gekom het nie, dan het hulle nou voor hierdie
situasie te staan gekom, dat hulle nie kon kom nie, al wou hulle ook en al het
hulle gekom dan was die Woordbediening nie daar nie.
Finansieel het die "verplasing" van die
bedienaar van die Woord na Heidelberg sy voordele
ingehou, maar daarmee het dit ook opgehou. Dit het veel van ds. Boneschans
gevorder. Die werk in die gemeente moes tog maar op die duur daaronder ly. In
hierdie tyd ontvang ds. Boneschans beroepe na Koster en Venterstad. Hierdie
beroep het gekom as 'n antwoord op meer as een bekommerde vraag, maar
terselfdertyd was dit een van die moeilikstes om te oorweeg. Sou dit die van
God bedoelde oplossing wees, of speel die sondige menslike hier sy rol ten
volle uit, want die gemeente het in die situasie te staan gekom, dat dit die
dienskneg van God nodig het meer as ooit tevore, maar hom minder as ooit tevore
kon dra. In hierdie allermoeilikste beslissing het ds. Boneschans hom ook laat
lei deur die kerkraad. Na baie ernstige en openhartige gesprekke met lede van
die kerkraad het ds. Boneschans besluit om die beroep aan te neem na
Venterstad. Hiermee is die kombinasie met Heidelberg, wat bykans
twee jaar bestaan het, beëindig.
Met die beëindiging van die staking, 'n tyd hierna,
het die lewe gaandeweg weer tot die normale gang teruggekeer. Lidmate is weer
in diens geneem en ander uit die gevangenis vrygelaat. Gaandeweg het die
finansiële krag van die gemeente sterker geword en so verbeter dat 'n eie
predikant weer versorg kon word. Proponent P. J. S. de Klerk is beroep en vir
'n paar jaar kon hy met vrug die gemeente bedien. In 1926 was Germiston 1,248
lidmate sterk. In daardie selfde jaar het die wyke Brakpan en Springs afgestig
as 'n selfstandige gemeente. Dit was die eerste van verskeie afstigtings in die
jare wat sou kom. Kort hierna is dr. De Klerk beroep na Johannesburg-Oos in
kombinasie met Brakpan en Springs. Hiermee is 'n kort maar geseënde
bedieningstyd beëindig.
In 1926 word ds. Boneschans weer beroep na Germiston
en hierdie keer het hy vir bykans 20 jaar hier in Germiston met groot seën en
vrug gewerk. Nie net was hy 'n waardige en besonder toegewyde herder en leraar
nie, maar ds. Boneschans het ook 'n ontsaglike aandeel gehad in die stryd vir
die Afrikanersaak. Hy het hom beywer vir die behoud en bestendiging van die
Afrikaanse taal en kultuur, vir dit wat volkseie was en vir nasietrots. Die
konsistorie van Germiston se Gereformeerde kerkgebou was meer as een keer die
bymekaarkomplek van 'n groepie manne wat met alle mag hulle deel gedoen het in
die titaniese stryd om volksbehoud. In hierdie dae toe die Afrikanervolk so
verdeeld was, dat dit gevaarlik was om jouself te openbaar aan watter kant jy
veg, het ds. Boneschans steeds met oortuiging sy beginsel verkondig. Die
vertroue wat ds. Boneschans geniet het, het dan ook baie wyer gegaan as die
gemeente. Dit blyk ook duidelik daaruit dat in 1938 met die algemene verkiesing
ds. Boneschans die kandidaat was van die sogenaamde "gesuiwerdes" vir
die Parlement. Dit kon ds. Boneschans ook alleen met die steun van die kerkraad
en gemeente. Hiermee het die Gereformeerde Kerk van Germiston 'n groot aandeel
gehad in ons volkslewe.
Na ds.
Boneschans se koms na Germiston het dit goed gegaan met die Gereformeerde Kerk.
Die kerkgebou in Middelstraat het te klein geword. Na beraad is drie standplase
aan Joubert- en Scottstraat met 'n woning daarop aangekoop. Die woning is
verander tot 'n dienlike pastorie. Op die hoekstandplaas is 'n kerk gebou in
1933.
Onder die bediening van ds. Boneschans het in die
jaar 1936—37 Boksburg en Benoni afgestig tot selfstandige gemeente. In 1939
volg die afstigting van Alberton.
Die gemeente van Germiston het in 1941, 627
belydende lidmate getel. Die bearbeiding van die gemeente kon nou meer
intensief gedoen word. Die jare in Germiston met al sy lief en leed het ook ds.
Boneschans se liggaamskragte begin aftakel. In hierdie tyd word aan die
kerkraadslede van Primrose en Edenvale die reg gegee om apart te vergader,
stortings in ontvangs te neem en finansiële verslae te behandel. Dat hiermee
die deur oop gestoot is vir 'n volgende afstigting, spreek vanself. Trouens,
toe aan die lidmate van die wyke in Primrose die geleentheid gegee is om 'n eie
boufonds op te bou, was afstigting 'n voldonge feit en net 'n kwessie van tyd.
In 1946 het die Gereformeerde Kerk van Primrose tot openbaring gekom uit die
Gereformeerde Kerk van Germiston. Hiermee het 'n vergesig van die baie ver
verlede in vervulling gegaan en daarmee ook 'n ideaal van ds. Boneschans en
ouer kerkraadslede, dat elke wyk van die moedergemeente Germiston, 'n
selfstandige gemeente sou word.
Voordat hierdie ideaal ten volle verwesenlik is, het
ds. Boneschans die beroep na die Gereformeerde Kerk Colesberg aangeneem.
Hiermee is 'n geseënde en vrugbare bedieningstyd van amper 20 jaar in Germiston
se Gereformeerde Kerk afgerond en beëindig.
In 1947 is ds.
J. L. van der Merwe, van Petrusburg, O.V.S., beroep na Germiston. Vir bykans
elf jaar was ds. Van der Merwe hier die instrument in God se Hand om die werk
voort te sit, maar dan onder omstandighede wat heelwat anders as in veral die
beginjare van die bedieningstyd van ds. Boneschans was. In die loop van die
jare het Germiston van 'n mynwerkerskamp en later mynwerkersdorp ontwikkel tot
een van die groot stede in Transvaal. Geleidelik
het ook sy bestaansbron van goud oorgeskuif na staal- en ander
fabrieksprodukte. Waar dit vroeër afhanklik was van die omliggende goudmyne, is
dit vandag 'n stad van nywerhede en industrieë in die eerste plek. Sy
voortbestaan as stad is in die mate verseker en gestabiliseer dat dit nie
langer alleen afhanklik is van die goudmyne nie. Goudmyne waarvan meer as een
skag al toegemaak is, omdat of die goudrif uitgewerk is of nie langer meer
ekonomies ontgin kan word nie.
Met hierdie geleidelike oorskakeling van 'n myndorp
na 'n stad van nywerhede en industrieë het daar vanselfsprekend 'n verandering
gekom in die bevolkingstruktuur. Die salaris van die mynwerker as groep geneem,
was in die algemeen redelik goed. Almal kon min of meer dieselfde
lewenstandaard handhaaf. Met die koms van nywerhede en industrieë het hierdie
bykans eenvormige salarisfaktor verdwyn. Omdat die werk nie meer dieselfde was
nie, was die vergoeding nie meer dieselfde nie. Almal kon nie meer dieselfde
lewenstandaard handhaaf nie. Daarmee is die inwoners van die stad meer as ooit
tevore in groepe van arm en meer gegoed verdeel. Die mense het uit die aard van
die saak apart begin woon. Waar daar vroeër 'n saamhorigheidsgevoel was uit
hoofde van die min of meer eenvormigheid van werk, het dit ook vir 'n groot
mate verdwyn. Die behoeftes, stoflik sowel as geestelik, het meer as ooit
tevore van persoon tot persoon verskil. Die persoonlike belangstelling en
strewe het meer en meer uiteenlopend geword. Probleme het verskil van huis tot
huis. Hierdie differensiasie sou ook meer as ooit tevore tot openbaring kom in
die gemeente. Die herder en leraar sou hiermee in besonder rekening moes hou in
die versorging van die gemeente vanaf die kansel en met huisbesoek. Meer as
ooit tevore sou die herder moes inwerk teen die toenemende uiteenloping en
eventuele wegdrywing van verbondskinders. Die band tussen gelowiges onderling
sou gedurig stywer en hegter gebind moes word. Van die herder sou dit geduld en
volharding, moed en deursettingsvermoë vorder ten alle tye.
Sover dit die Gereformeerde Kerk Germiston
aanbetref, het die gemeente ook voor hierdie situasie te staan gekom dat met
die verskillende afstigtings die gemeentelike uitbreiding kort geknip is.
Begrens deur Alberton, Primrose en Boksburg is die gemeente ingehok in die
sentrale stadsgedeelte van Germiston met genoemde gemeentes as 'n groot
suigkrag op die lidmate van die Gereformeerde Kerk Germiston. In hierdie opsig
sou Germiston steeds 'n moeder vir die kinders wees. 'n Moeder wat haarself
ontledig in belang van haar kroos. Onder hierdie omstandighede het ds. J. L.
Van der Merwe sy bediening hier begin in een van die mees stedelike gemeentes
in die Gereformeerde Kerkverband in Suid-Afrika.
Met geduld en toewyding, altyd gelowig optimisties,
het ds. Van der Merwe met groot seën hier gedein. Deur die krag van die geloof
in die goeie uitkoms van God se saak, het ds. van der Merwe saam met die
kerkraad die gemeente met taaie volharding bymekaar gehou.
Nieteenstaande elke ontbindingsfaktor staan die moedergemeente van hierdie
klassis nog steeds as 'n voorbeeld vir haar kroos. 'n Moeder in feitlik elke
opsig, miskien nie meer so jonk en sprankelend fris en vol jeugdige bloeikrag
nie, maar tog 'n voorbeeld in gelowige deugde, deugde van aanhou, uithou,
vertroue en vastrap in die nimmereindigende stryd, om nooit die moed op te gee
nie, nooit oor te gee aan die magte van 'n sondige wêreld nie, maar gelowig
voort te werk en te bid.
So geseënd was die bedieningsjare dat die gemeente
in die jaar 1956-57 'n mooi en dienlike kerksaal in gebruik kon neem. 'n Saal
met die paslike naam: Postma-saal.
Hiermee het ds. Van der Merwe homself geopenbaar as
'n fyn kenner van die
eiesoortige probleme van Gereformeerde Kerk Germiston. Ds. Van der Merwe het 'n
hegter saambinding en saamsnoering van die gemeente, ook sosiaal nagestrewe.
Waar die kerkgebou die vergaderplek van die gemeente met sy God sou wees, sou
die saal die vergaderplek wees van die gemeente wat sy God ontmoet het.
Soveel het die gemeente ontvang dat dit ook gehad
het om aan ander mee te deel. Van ds. Van der Merwe het die inisiatief en
leiding uitgegaan en later die finale afrondingswerk, van 'n swart
Gereformeerde Kerk in Natalspruit-lokasie. Ds. Van der Merwe en die kerkraad
het die kragte van die omliggende gemeentes saamgesnoer tot 'n hegte
sending-drywende eenheid. Met ds. Van der Merwe se leiding kon in die lokasie
van Natalspruit 'n pastorie en 'n dienlike kerkgebou in gebruik geneem word,
asook die beroeping van 'n swart bedienaar van die Woord plaasvind. Bedaard en
tog koersvas, doelgerig en vol krag, eienskappe wat vandag nie altyd na waarde
geskat word nie; want die deursnee mens het nou eenmaal meer smaak vir die
vertoon en op die oog af vir die onstuimige en skynbare grootdoen van dinge.
Na bykans elf jaar het ds. Van der Merwe die beroep
na die Gereformeerde Kerk van Piet Retief aangeneem. Daarmee is 'n heel
besondere en geseënde bedieningstyd in die geskiedenis van die Gereformeerde
Kerk Germiston afgerond.
In die beginjare was Germiston as stad gelukkig om
met goud as hoofslagaar te kan begin, juis
die edel metaal wat aan min skommelinge onderhewig is. In sy groei en
wordingsjare kon hy die beskerming en die stabiliteit en sekuriteit van goud
geniet om te groei tot selfstandigheid.
Vir sover bekend het nie een Gereformeerde lidmaat
ooit ryk geword uit die Germistonse goud nie. Maar meer as een het hier in die
moeilike stadslewe met sy gedurige skommelinge die sekuriteit en stabiliteit
van die goud van God se Woord geniet. Nie een het juis ryk geword in die delf
na goud nie, maar die wat wou delf na die goud in God se Woord kon vol en ryk
lewe. Meer as een het arm hier gekom, arm na die geestelike en arm na die
stoflike en al moes hy dan na die stoflike nog arm sterwe, kon hy nogtans vol
en ryk sterwe na die geestelike, in die genade van God in Christus Jesus. Die
Gereformeerde Kerk van Germiston, Kerk van Christus Jesus, het so baie ryk
gemaak, ryk, met die goud van God se Woord.
Baie het goud gedelf, goud wat min ooit gesien het,
en tog was dit daar. So was ook God se genade oor Sy Kerk hier ter plaatse. Sy
genade wat nie altyd tasbaar, sigbaar gesien kon word nie en tog was dit daar,
elke dag, elke oomblik, ook nou.
|
 In 1959 word
ds. W F Steenkamp beroep as leraar en herder van die Gereformeerde Kerk
Germiston. Hy doen vir sewe jaar bedieningswerk by die Gereformeerde Kerk
Germiston. In 1966 word hy beroep na die Gereformeerde Kerk Kemptonpark.
Nadat ds. W. F.
Steenkamp die beroep na Kemptonpark aanvaar het beroep die Gereformeerde Kerk
Germiston ds. G du Plessis. Ds. du Plessis begin in 1966 met sy werk as
leraar en herder vir sewe jaar lank in Germiston. In 1973 word ds. du Plessis
beroep na Die Gereformeerde Kerk Witpoortjie
|
Ds F. J. van
Deventer word in 1972 net voor die kersvakansie vanaf Middelburg in die Kaap
beroep. Op 18 Maart 1973 lewer Ds van Deventer sy intreepreek in die
Gereformeerde Kerk Germiston.
In 1977 word
die nuwe kerkgebou deur ds. van Deventer geopen. Die nuwe kerkgebou is opgerig
nadat die grond waarop die ou kerkgebou was, benodig is vir die oprig van die
Willem Cruywagen hospitaal in Germiston.
Ds van Deventer het vir ongeveer 33 jaar sy wortels
diep in Germiston se bodem in gegroei. Hy en sy gesin het innig deel geword van
die gemeente en ook gemeenskap. In Oktober 2000 het ds van Deventer so siek
geword dat hy weens mediese redes moes emiriteer.
Dr. J Visser (emerituspredikant van Brakpan) begin
in September 2001 in die gemeente hulpdiens lewer en help die Gereformeerde
Kerk Germiston vir ongeveer 17 maande met woordbediening, huisbesoek en
ook siekebesoeke. Hierdie tydperk wat dr. Visser uitgehelp het, sal altyd
deur die gemeente onthou word.
In November 2002 word ds JA Erasmus van Windhoek-Suid
beroep na die Gereformeerde Kerk Germiston. Ds Erasmus aanvaar
die beroep aan die begin van 2003 en is op die 15de Februarie 2003 as leraar
en herder van die Gereformeerde Kerk Germiston bevestig.
Ds. Erasmus het sy studies aan die einde van 1999
voltooi en sy werk as predikant in die bedieningsooreenkoms tussen
Windhoek-Suid, Okahandja en Gobabis begin. In Windhoek het hy hom op
jeugbediening en in Gobabis op sendingwerk toegespits. In sy studie vir die
ThM-graad het hy op gemeenteopbou en jeugwerk gefokus. Die tema van sy
verhandeling was "Die praktyk van jeugbediening binne Gereformeerde
gemeenteopbou."
Die Gereformeerde Kerk Germiston het tans 263
belydende lidmate en 65 doop lidmate.
Inligting op hierdie webbladsy is verkry uit die
Kerkblad, 19 Julie 2002 en die 1959 Gedenkboek van Klassis Germiston.
|